• Background Image

    News & Updates

Januarie 17, 2025

2025 LASA-kongres: Oproep om referate

Tema: Status quo en verder: die stand van die Suid-Afrikaanse literatuur- en kultuurstudies
Datum: 8 en 9 Mei 2025
Venue: 26 Degrees South, Muldersdrift, Gauteng, Suid-Afrika
Sluitingsdatum vir voorleggings: 15 Februarie 2025
Kontak: info@lasa.org.za

Die Letterkundeassosiasie van Suid-Afrika (LASA) nooi akademici en nagraadse studente uit om referaatvoorstelle voor te lê vir sy 2025-kongres, wat van 8 tot 9 Mei 2025 te 26 Degrees South, Muldersdrift, Gauteng, Suid-Afrika sal plaasvind.

Die Suid-Afrikaanse letterkunde en kultuur word steeds diep beïnvloed deur ’n pynlike en verdeelde verlede. Eeue van kolonisering het aanleiding gegee tot ’n langdurige stryd teen apartheid, wat in 1994 met die eerste demokratiese verkiesing tot ’n einde gekom het. Hoewel die aanvanklike hoop en optimisme rondom hierdie gebeurtenis met verloop van tyd getaan het – veral in die lig van talle staatkundige mislukkings en skreiende sosiale ongelykheid – bly 1994 ’n sleutelmoment in Suid-Afrika se kollektiewe bewussyn en verbeelding. Hierdie oomblik het ’n ankerpunt geword waaraan historiese, literêre en kulturele betekenis voortdurend geheg sou word. Verskeie pogings is weliswaar aangewend om ons idees rondom 1994 te verfyn en verder te voer as die eenvoudige binêre denke wat dikwels die logika van apartheid self onderskraag het. Ideologiese tweedelings (soos weerstand/apartheid) en netjiese tydvakke (soos apartheid/post-apartheid) is genuanseer met behulp van konsepte soos die alledaagse (Ndebele, 1986), die naat (De Kock, 2001), medepligtigheid (Sanders, 2002), verstrengeling (Nuttall, 2009), nostalgie (Dlamini, 2009) en die post-oorgang (Frenkel en MacKenzie, 2010), om maar enkeles te noem. Tog, ondanks al hierdie kritiese ingrepe, staan die Suid-Afrikaanse letterkunde steeds sterk in die teken van ons kulturele en politieke herinneringe aan apartheid.

Ons verwikkelde verlede bied ruim geleentheid vir akademiese ondersoek en toepassingsmoontlikhede binne die hoër onderrig, spesifiek wat Suid-Afrikaanse letterkunde en kultuur betref, maar ook dié van Afrika. LASA se 2025-kongres beoog om die status quo van die Suid-Afrikaanse letterkunde en kultuurstudies op twee vlakke te ondersoek:

  1. Die skepping/ongedaan maak van die status quo: Ons nooi navorsers uit om die verlede en hede van Suid-Afrikaanse letterkunde en kultuurstudies, in die breedste sin, te (her)oorweeg ten einde ’n beeld te vorm van wat nog in die toekoms mag voorlê, of waarop miskien aangedring kan word. Met ander woorde, wat was/is die status quo, hoe het ons hier gekom, en wat lê vir ons voor in die komende dekades?
  2. Verder: Behalwe vir ondersoeke na die Suid-Afrikaanse letterkunde en kultuur in die besonder, en dié van Afrika in die algemeen, nooi ons navorsers ook uit om te besin oor al daardie subdissiplines, genres en subgenres, belangstellingsgebiede, literêre- en kulturele teorieë asook metodologieë wat nie noodwendig as “hoofstroom” beskou word nie, maar inderdaad deel uitmaak van die groter akademiese diskoers.

Ons verwelkom dus graag referaatvoorstelle van ’n algemene of meer gefokusde aard betreffende die stand van die Suid-Afrikaanse letterkunde en/of kultuurstudies. Moontlike onderwerpe sluit in, maar is nie beperk nie tot:

  • oorwegings oor die status quo;
  • die bestudering van letterkunde in Suid-Afrika (verlede, hede en toekoms);
  • die rol en funksie van nasionale narratiewe;
  • vryheid en gevangenskap;
  • grond, identiteit en betekenis;
  • nostalgie;
  • futurisme, distopie en utopie;
  • herstel/ongesteldheid, vooruitgang/agteruitgang;
  • kunsmatige intelligensie;
  • gender, seksualiteit en ras;
  • literatuur en die politiek van ruimte/plek;
  • dekolonisering en die postkoloniale;
  • Afrika en Afrikanisering;
  • die Swart Argief;
  • migrasie;
  • grense en grenslyne;
  • drama- en filmstudies;
  • letterkunde en literatuurwetenskap in meertalige ruimtes;
  • vergelykende ondersoeke: Suid-Afrika in gesprek met die wêreld;
  • die onderrig van letterkunde in Suid-Afrika;
  • ondersoeke oor kanonieke tekste van buite Afrika.

Opsommings van 250 tot 300 woorde kan tot en met 15 Februarie 2025 ingedien word by info@lasa.org.za. Referate kan in Afrikaans of Engels gelewer word. (Bevestiging van aanvaarding sal spoedig ná voorlegging geskied.) Dertig minute word ingeruim vir elke referaat: 20 minute vir voordrag en 10 minute vir vrae. Verdere besonderhede rakende kongresgelde en betalings sal binnekort aangekondig word.

Kongresdeelnemers sal ook die geleentheid hê om hul referate te verwerk en as volledige artikels (ongeveer 6000 woorde) voor te lê vir publikasie in ’n spesiale kongresuitgawe van Tydskrif vir Literatuurwetenskap. Die tydskrif is eweknie-geëvalueer en geïndekseer in die volgende: Arts and Humanities Citation Index (AHCI), Index to South African Periodicals, British Humanities Index, Humanities International Index, Scopus (Q1, vanaf November 2024), en MLA International Bibliography. Dit word ook gelys in die Directory of Open Access Journals (DOAJ).

September 1, 2021

LASA Algemene Tweejaarlikse Vergadering 2021

Alle lede van LASA word hartlik uitgenooi na die Algemene Tweejaarlikse Vergadering.

Datum: Donderdag, 30 September 2021
Tyd: 17:00 (GMT+2)

Die vergadering sal aanlyn plaasvind, via Microsoft Teams. Die uitnodiging na die vergadering en ‘n skakel om by die vergadering aan te sluit is aan alle lede gestuur. Indien u nie so ‘n e-pos ontvang het nie, kontak asseblief die sekretaris, Neil van Heerden, by info [at] lasa.org.za.

Augustus 12, 2019

2019 LASA-kongres: Program

Die 2019 LASA-kongres vind vanaf 14 tot 16 Augustus op die Vanderbijlpark-kampus van die Noordwes-Universiteit plaas. Die kongresprogram kan afgelaai word deur hier te klik.

April 2, 2019

2019 LASA-kongres: Oproep vir referate

LASA-Kongres en Tweejaarlikse Algemene Vergadering

Eerste Oproep vir Referate

 

Tema: Vernuwing – “O, brave new world!”
Datum: 14-16 Augustus 2019
Venue: Noordwes-Universiteit, Vaaldriehoekkampus

 

U word hartlik uitgenooi om voorstelle vir bydraes tot die tweejaarlikse kongres van die Letterkundeassosiasie van Suid-Afrika (voorheen SAVAL) voor te lê. Na aanleiding van Miranda se bekende uiting in The Tempest (1611) van William Shakespeare, “O, brave new world!” – ’n frase wat weer in die titel van Aldous Huxley se distopiese roman (1932) teruggevind word – word die kongres vanjaar op die tema van vernuwing in die letterkunde toegespits. Hierdie tema is kennelik minder pessimisties as onlangse LASA-kollokwium- en kongrestemas wat oorwegend met ’n gevoel van ontnugtering gepaardgegaan het. Terselfdetyd impliseer Miranda se woorde egter ’n mate van ironie wat enige eenvoudige optimisme ondergrawe. Chimamanda Adichie waarsku teen die enkelvoudige verhaal (“the danger of a single story”), en haar roman, Americanah (2013), is soos dié van Huxley gedeeltelik ingegee deur die idee van ’n Nuwe Wêreld, in hierdie geval die VSA as toonbeeld van ’n tegnologie- en verbruikersgedrewe samelewing. Vernuwing as tema omvat ’n dubbelsinnigheid – ’n spanning tussen die aftakeling van die status quo en die daarstel van ’n radikale nuwe bestel – wat talle subtemas en ondersoekmoontlikhede bied:

  • Taal en letterkunde – die verbeelding van nuwe idees en alternatiewe wêrelde deur middel van fiksie, drama en poësie, nuwe genres en mengvorme, nuwe of hernude benaderings tot literatuurstudie, die Nuwe Materialisme
  • Bewussyn – anderkant die subjek, intersubjektiwiteit, diskoers, die einde van individualisme
  • Samelewing – seksuele diversiteit, nuwe lewensvorme, nuwe bestaansmoontlikhede, globalisering, stedelike vernuwing, herwaardering van die plaaslike
  • Kultuur – moderniteit, postmoderniteit, inheemse kennis, die Nuwe Animisme, kulturele diversiteit
  • Tegnologie – ontwrigtende tegnologieë, uitdagings in biotegnologie en inligtingstegnologie, groot data, bewaking/dophouding, digitale diktatorskap, posthumanisme en transhumanisme
  • Politiek – die einde van nasiestate, nuwe regeringsvorme, postkolonialisme, dekolonialiteit
  • Ekonomie – neoliberalisme, verbruikerskapitalisme en alternatiewe, die verbreding of oorbrugging van die gaping tussen ryk en arm, letterkunde as kommoditeit, groen ekonomie
  • Ekologie – ekopoësie, petrofiksie, Cli-Fi, klimaatsverandering, klimaatsvlugtelinge, Antroposeen, Chthuluseen, herbewildering

Hierdie subtemas is geensins omvattend nie. Studente en navorsers kan enige aanverwante letterkundige onderwerp wat met die tema “Vernuwing – ‘O, brave new world!’” verband hou, oorweeg.

Sperdatum vir die indiening van referaatvoorstelle:

Dien asseblief referaatvoorstelle van tussen 200 en 300 woorde teen 1 Mei 2019 by dr. Neil van Heerden in: E-pos: vheern@unisa.ac.za | Tel.: 012 429 6424. Daar word 30 minute vir elke referaat opsygesit:  20 minute vir die voordrag en 10 minute vir vrae.  Verdere besonderhede i.v.m. die kongresfooi en betaling sal later aangekondig word.

September 7, 2018

SAVAL Algemene Kongres – OPROEP VIR REFERATE

“Things fall apart”

17-19 Augustus 2017, Unisa, Pretoria

U word hiermee uitgenooi om referaatvoorstelle in te dien oor die tema “Things fall apart: the centre cannot hold” vir die tweejaarlikse kongres van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Algemene Literatuurwetenskap (SAVAL) wat vanaf 17 tot 19 Augustus 2017 deur die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa), Pretoria, aangebied word.

W.B. Yeats se apokaliptiese gedig “The Second Coming”, wat herleef het as titel van Chinua Achebe se invloedryke postkoloniale roman, dien as uitgangspunt vir die kongrestema. Bogenoemde versreël uit die gedig suggereer krisis, ’n sleutelterm in tradisionele poëtika maar ook deel van ’n veel breër tema, naamlik vloei – of selfs disintegrasie en verval. Dit problematiseer literêre representasies van chaos en die afbreek van orde. Tog skep dit ook moontlikhede vir vernuwing of die verbeel van moontlike wêrelde, want deur die val van ou strukture word ruimte gemaak vir nuwe ordes. Die bedoeling is nie om hierdie tema slegs op politieke (ver)beelding en kritiek, hetsy pessimisties of optimisties, utopies of distopies, toe te pas nie; dit kan ook op ’n individuele, psigologiese sowel as ’n abstrakte, teoretiese vlak letterkundig geaktiveer word. Daarom roep die kongrestema nie net postkolonialisme en dekolonisering op nie maar ook poststrukturalisme en dekonstruksie, asook talle ander navorsingsterreine.

Read More

Augustus 30, 2018

SAVAL Algemene Kongres 2017

17 & 18 Augustus 2017, Unisa, Sunnyside-kampus, Pretoria

Die oproep vir referate vir die 2017 SAVAL Algemene Kongres het nou gesluit. Die kongresregistrasievorm kan afgelaai word deur heir te klik.