April 2, 2019

2019 LASA-kongres: Oproep vir referate

LASA-Kongres en Tweejaarlikse Algemene Vergadering

Eerste Oproep vir Referate

 

Tema: Vernuwing – “O, brave new world!”
Datum: 14-16 Augustus 2019
Venue: Noordwes-Universiteit, Vaaldriehoekkampus

 

U word hartlik uitgenooi om voorstelle vir bydraes tot die tweejaarlikse kongres van die Letterkundeassosiasie van Suid-Afrika (voorheen SAVAL) voor te lê. Na aanleiding van Miranda se bekende uiting in The Tempest (1611) van William Shakespeare, “O, brave new world!” – ’n frase wat weer in die titel van Aldous Huxley se distopiese roman (1932) teruggevind word – word die kongres vanjaar op die tema van vernuwing in die letterkunde toegespits. Hierdie tema is kennelik minder pessimisties as onlangse LASA-kollokwium- en kongrestemas wat oorwegend met ’n gevoel van ontnugtering gepaardgegaan het. Terselfdetyd impliseer Miranda se woorde egter ’n mate van ironie wat enige eenvoudige optimisme ondergrawe. Chimamanda Adichie waarsku teen die enkelvoudige verhaal (“the danger of a single story”), en haar roman, Americanah (2013), is soos dié van Huxley gedeeltelik ingegee deur die idee van ’n Nuwe Wêreld, in hierdie geval die VSA as toonbeeld van ’n tegnologie- en verbruikersgedrewe samelewing. Vernuwing as tema omvat ’n dubbelsinnigheid – ’n spanning tussen die aftakeling van die status quo en die daarstel van ’n radikale nuwe bestel – wat talle subtemas en ondersoekmoontlikhede bied:

  • Taal en letterkunde – die verbeelding van nuwe idees en alternatiewe wêrelde deur middel van fiksie, drama en poësie, nuwe genres en mengvorme, nuwe of hernude benaderings tot literatuurstudie, die Nuwe Materialisme
  • Bewussyn – anderkant die subjek, intersubjektiwiteit, diskoers, die einde van individualisme
  • Samelewing – seksuele diversiteit, nuwe lewensvorme, nuwe bestaansmoontlikhede, globalisering, stedelike vernuwing, herwaardering van die plaaslike
  • Kultuur – moderniteit, postmoderniteit, inheemse kennis, die Nuwe Animisme, kulturele diversiteit
  • Tegnologie – ontwrigtende tegnologieë, uitdagings in biotegnologie en inligtingstegnologie, groot data, bewaking/dophouding, digitale diktatorskap, posthumanisme en transhumanisme
  • Politiek – die einde van nasiestate, nuwe regeringsvorme, postkolonialisme, dekolonialiteit
  • Ekonomie – neoliberalisme, verbruikerskapitalisme en alternatiewe, die verbreding of oorbrugging van die gaping tussen ryk en arm, letterkunde as kommoditeit, groen ekonomie
  • Ekologie – ekopoësie, petrofiksie, Cli-Fi, klimaatsverandering, klimaatsvlugtelinge, Antroposeen, Chthuluseen, herbewildering

Hierdie subtemas is geensins omvattend nie. Studente en navorsers kan enige aanverwante letterkundige onderwerp wat met die tema “Vernuwing – ‘O, brave new world!’” verband hou, oorweeg.

Sperdatum vir die indiening van referaatvoorstelle:

Dien asseblief referaatvoorstelle van tussen 200 en 300 woorde teen 1 Mei 2019 by dr. Neil van Heerden in: E-pos: vheern@unisa.ac.za | Tel.: 012 429 6424. Daar word 30 minute vir elke referaat opsygesit:  20 minute vir die voordrag en 10 minute vir vrae.  Verdere besonderhede i.v.m. die kongresfooi en betaling sal later aangekondig word.