September 7, 2018

SAVAL Algemene Kongres – OPROEP VIR REFERATE

“Things fall apart”

17-19 Augustus 2017, Unisa, Pretoria

U word hiermee uitgenooi om referaatvoorstelle in te dien oor die tema “Things fall apart: the centre cannot hold” vir die tweejaarlikse kongres van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Algemene Literatuurwetenskap (SAVAL) wat vanaf 17 tot 19 Augustus 2017 deur die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa), Pretoria, aangebied word.

W.B. Yeats se apokaliptiese gedig “The Second Coming”, wat herleef het as titel van Chinua Achebe se invloedryke postkoloniale roman, dien as uitgangspunt vir die kongrestema. Bogenoemde versreël uit die gedig suggereer krisis, ’n sleutelterm in tradisionele poëtika maar ook deel van ’n veel breër tema, naamlik vloei – of selfs disintegrasie en verval. Dit problematiseer literêre representasies van chaos en die afbreek van orde. Tog skep dit ook moontlikhede vir vernuwing of die verbeel van moontlike wêrelde, want deur die val van ou strukture word ruimte gemaak vir nuwe ordes. Die bedoeling is nie om hierdie tema slegs op politieke (ver)beelding en kritiek, hetsy pessimisties of optimisties, utopies of distopies, toe te pas nie; dit kan ook op ’n individuele, psigologiese sowel as ’n abstrakte, teoretiese vlak letterkundig geaktiveer word. Daarom roep die kongrestema nie net postkolonialisme en dekolonisering op nie maar ook poststrukturalisme en dekonstruksie, asook talle ander navorsingsterreine.

SAVAL/SASGLS verwelkom referate met enige van die volgende as vertrekpunt:

  • Apokalips en/of katastrofe
  • Derde Millennium
  • Die koms van die Antroposeen
  • Die omgewing en die ekologie (die sesde massa-uitwissing)
  • Die Midde-Ooste: massa-migrasie en -asiel in Europa
  • Nasionale identiteit en/of globalisering
  • Wêreldekonomie en/of -politiek
  • Die metropool, kolonie of postkolonie
  • Moderniteit en dekolonisering
  • Populêre/grondvlak-bewegings vir verandering in die akademie, byvoorbeeld #RhodesMustFall en #FeesMustFall
  • Universiteite
  • Leierskap (of die mislukking daarvan)
  • Desentralisering van taal: poststrukturalisme en dekonstruksie
  • Desentralisering van die individuele subjek
  • Waansin en verlies van die self en/of identiteit
  • Spel, jouissance en die plesier van die teks
  • Eskalasie van sosiale/politieke/tegnologiese verandering
  • Die uitdagings van bio- en kuberetiek
  • Posthumanisme
  • Enige ander verbandhoudende uitgangspunt

Daar word 30 minute vir elke referaat opsygesit:  20 minute vir die voordrag en 10 minute vir vrae.  Stuur asb. opsommings van nie meer as 300 woorde nie aan dr. Alan Northover of mnr. Reinhardt Fourie.

Verdere besonderhede i.v.m. die kongresfooi en en betaling sal later aangekondig word.